Grootoog garnaal ontdek

’n Nuwe garnaal-spesie met prominente geringde ogies is aan die Suid-Afrikaanse kus by Valsbaai ontdek.

Die klein garnaaltjie is net 10 tot 15 mm lank en word die “sterkyker mysid” deur duikers genoem omdat sy ogies heeltyd boontoe kyk. Die wit oë het elk rooi gekleurde ringe op sodat dit die illusie skep dat hierdie kykers ‘n veel groter diertjie s’n is en sodoende vyande afskrik.

Sy ogies het egter geen pupil of iris nie, maar is saamgesteld oë soos dié van ‘n insek en bestaan uit verskillende eenvoudige elemente wat elkeen in ‘n ander rigting kyk.

Die internasionale garnaal-kenner verbonde aan die Universiteit van Wene, prof Karl Wittmann, het bevestig dat dit ‘n nuwe spesie is en het dit vernoem na die duiker wat die ontdekking gemaak het, Guido Zsilavecz. Die spesie, Mysidopsis zsilaveczi, word beskryf in die tydskrif, Crustaceana, en is die negende Mysidopsis-spesie wat in Suider-Afrika gekry is.

Tussen die onderskeie spesies wat aan prof. Wittman deur ‘n plaaslike akademikus en Zsilavecz gestuur is, is daar blykbaar nog twee nuwe spesies waaroor navorsers aanstaande jaar in publikasies sal skryf.

Daar word jaarliks sowat 30 nuwe spesies in die Suid-Afrikaanse kuswaters ontdek.