Groot fout!

So lees ek per ongeluk ‘n berig raak oor een van die grootste skandes wat die internasionale onderwysbedryf nog ooit geruk het. Die ondenkbare ramp het hom afgespeel in Suid Korea. Die minister vra in die openbaar om verskoning, die hoof van die nasionale eksamineringsraad bedank en kan dit wat voorheen van sy oë gesien kon word ook nie meer wys nie. Die groot gebeurtenis wat vir ewig in die geskiedenisboeke opgeteken sal word as die oomblik wat die Suid-Koreaanse onderwysstelsel kruppel gelaat het? Twee foute in die universiteitstoelatings-eksamen.

Moenie ‘n fout maak nie, dit klink dalk nie so erg nie, maar jy verstaan seker nie die omvang nie. Dit is nie klein foutjies soos maar in enige stelsel gebeur nie. Dis nie asof een ou provinsietjie se kinders nie skoolboeke ontvang het nie! Dit is nie asof hulle een ou kurrikulumpie infaseer het wat toe geflop het en maar ‘n enkele paar jaartjies se kinders se opvoeding verwoes het nie. Dis nie asof hulle bloot vrot kos aan skoolkinders uitdeel nie.  Dit is ook nie asof hulle maar net alle vorme van dissiplinering uit skole verwyder het sodat kinders uiteindelik hoenders doodskop vir buitemuurse aktiwiteite en onderwysers beter kans het om geskiet, met messe gesteek of met besemstokke aangerand te word as ‘n kaapse bendelid nie.

Nee, die fout was reusagtig! Groter as ‘n Heyneke Meyer spankeuse. Groter selfs as Juli-ass se besluit om met Cyril se huurmuur te boks. Die fout het ‘n volle 4000 studente geraak uit die 650,000 wat geskryf het. Dit behels nou dat hul punte aangepas sal moet word omdat daar meer as een regte antwoord was. So skande sal nooit in Suid Afrika plaasvind nie. Ten spyte daarvan dat vraestelle in Suid Afrika effe minder leesbaar is as die Suid Koreaanse, is daar ook nooit ‘n geval van dat meer as een regte antwoord moontlik is nie. By ons is daar nie méér regte antwoorde op elke vraag nie…daars meer vrae op elke vraag!

Hoe dit ookal mag wees. Met hierdie tipe foute in ander lande is dit maklik om te sien hoe ons stelsels uittroon bo ander soos Andries Bekker in ‘n Japanese rugbyspan. Ons is soveel beter dat die middelman sommer uitgesny word. Wie het elk geval hoërskool en universiteit nodig.

In die laerskool leer hulle jou skryf en dit is al wat jy nodig het om jou CV te vervals!

Tot volgende slag

Die Sweep