Grondgryp dwing polisie tot optrede

Grondgrypers wat skynbaar ondersteuners is van Julius Malema se EFF het onder die rubberkoeëls van die polisie deurgeloop toe hulle onwettig op ’n stuk grond by Nellmapius, aan die oostekant van Pretoria begin plak het.

Die grondgrypers het Woensdag ’n oop stuk grond beset en begin om hulle plakkershutte en kaias op te rig en geëis dat dit hulle grond is..

Die grond wat in die naam van die Pretoria metroraad geregistreer is, het die eienaars genoop om die hulp van die polisie in te roep.

Na wat berig word, was die polisie nie opgewass teen die grondgrypers nie, en is die hulp van ’n veiligheidsinstansie ingeroep wat deur die polisie beskerm is in die operasie wat daarna gevolg het.

Die polisie was op ’n stadium verplig om die grondgrypers met rubberkoeëls te verjaag, wat veroorsaak het dat die besetters die geboue op die perseel met klippe bestook het.

Daarna het die veiligheidsmaatskappy begin om die geboue wat onwettig opgerig is, af te breek. Die besetters was hieroor ook ongelukkig en het toe begin om buitebande op die teerpad te brand en klippe te pak om die weg te versper.

Maandag het ’n soortgelyke voorval plaasgevind en moes die polisie ook die grondgrypers met rubberkoeëls verjaag. Tydens die voorval is vasgestel dat die EFF die grond aan ondersteuners begin toedeel.