Goudstad gewildste in Afrika

Dit lyk asof Johannesburg vir die tweede agtereenvolgende jaar die gewildste stad in Afrika gaan wees.

Die MasterCard-indeks vir Globale Stadsbestemmings vir 2014 verwag 4,3 miljoen internasionale oornagbesoekers vir vanjaar, ‘n 4,9% toename ten opsigte van verlede jaar se 4,1 besoekers.

Ook ten opsigte van internasionale spandering deur besoekers is die stad bo-aan die lys in Afrika. Die verwagting is dat besoekers vanjaar ‘n aansienlike $3,2 miljard sal bestee in vergelyking met $3,06 verlede jaar.

Die Goudstad se status as die gewildste bestemming onder besoekers aan die Afrika-kontinent is beduidend vir die ekonomiese vooruitsigte van die stad. Besoekers se besteding geld toenemend as ‘n belangrike bron van inkomste vir die stad se gasvryheid-, handel-, sport- en kulturele sektore, aldus MasterCard se president in Suid-Afrika,  Mark Elliott.

Kaapstad is volgens die MasterCard-indeks die tweede gewildste bestemming in Afrika met 1,6 besoekers wat na verwagting vanjaar daar sal oornag en waarskynlik $2,3 miljard sal bestee. Dit is ‘n 5,5% toename in toeriste en ‘n indrukwekkende 10% styging in spandering in vergelyking met verlede jaar.

Die MasterCard-indeks vir Globale Stadsbestemmings beoordeel 132 stede, waarvan 13 in Afrika is, ten opsigte van die totale aantal internasionale besoekers wat in die stad aankom en die oorgrens spandering deur dieselfde besoekers.