Gemaskerdes hou protes

Skares het in ‘n honderd stede regoor die wêreld deelgeneem aan ‘n Miljoen Gemaskerde Betoging op Guy Fawkes-dag.

In Londen het derduisende mense opgeruk vir die betogings wat jaarliks deur die internet-groep, die “Anonymous movement” gereël word.

Dit is ‘n groep wat wyd uiteenlopende besware koester, waaronder regeringskorrupsie, besparingsmaatreëls wat deur die Europese Unie afgedwing word, die toename in staatspioenasie deur onder meer afluistering, en kapitalisme. 

Hoewel die Anonieme Beweging glad nie gebind word deur vaste oortuigings nie, glo die lede wel dat die internet ‘n magtige medium vir die vryheid van spraak is waarmee regerings oorgeneem kan word.  Die maskers wat die mense dra, het nou al die handelsmerk van die Beweging geword wat in 2003 ontstaan het.

Die agenda waaroor die pas afgelope betogings gehandel het, is wyd uiteenlopend. Maar die Beweging se steun is blykbaar besig om toe te neem omdat mense regoor die wêreld al hoe meer ontevrede is met hulle plaaslike regerings en ook meen dat die korporatiewe wêreld ‘n wurggreep op internasionale politiek het.

Die polisie het in groot getalle strate afgesper en die betogers dopgehou. Van hulle is in hegtenis geneem.