Gee my krag

Het jou vrou al ooit vir jou gesê: Ag liefie, ek het nie krag vir kosmaak nie/klere was nie/…ander dinge wat jy graag wou doen nie!  Wel, raak gewoond daaraan. Daar lê blykbaar vir Suid Afrika donker tye voor. Ja EKSDOM se silo’s tuimel nou al ineen, baie soos hul hoofbestuur al vir jare doen. 

Nou word daar weer gedreig met beurtkrag, ‘n regverdige manier om die hele land se mense gemoedsdiaree te gee. Almal kry dan ‘n beurt om die teenoorgestelde te doen van alles wat die dominee jou Sondag tydens jou oggendslapie mee wakker geskree het. Almal behalwe die buurt waar die plaaslike raadslede bly, natuurlik.

Daar is natuurlik verskillende vlakke van frustrasie. Dit is erg vir vroue om wanneer hul net klaar gestort het  agter te kom dat daar nie krag is om ‘n Spaanse dubbelkrul in hul hare in te blaas vir nig Drika se troue nie. Dit is wel erger vir die ou wat in die huisbak vasgevang word net nadat hy indiese kos geëet het waarvoor sy sagte spysverteringstelsel nie opgewasse is nie. En dan deel hy ook nog die hysbak met die nooi waarop hy ‘n ogie het en wat net gister op sy Whatsapp grappie gereageer het met ‘n LMGA en ‘n geelglimlaggiegesiggie.

Die onbevoegdheid van die kragverskaffer is ongeëwenaar. Om die waarheid te sê, as kragverskaffer se eerste ‘k’ met sy ‘v’ omgeruil word, kry jy waarskynlik die tipe beroepbeskrywing van wat die meeste van EKSDOM se werknemers oor 20 jaar gaan wees, hoewel hulle seker ‘n meer polities korrekte beskrywing sal vind vir die ou wat vragte kerse aanry.

Ja, in Suid Afrika is daar meer verkragters as kragkabels. Om die waarheid te sê: as elke verkragting ‘n gloeilamp laat brand het was Suid–Afrika die son!

Die ingelse sê: “Look on the bright side” en aangesien dit tans my beurt is om krag te hê gaan ek dit probeer: Ten minste gee beurtkrag my ‘n beter verskoning as my rubriek laat is!

Tot volgende slag

Die Sweep