Gebede help Berlynse Muur val

Die val van die “Muur”, vyf en twintig jaar gelede, is ‘n aangrypende gebeurtenis veral as die Gebede vir Vrede wat dit vooraf gegaan het, inaggeneem word.

Hierdie Gebede vir Vrede is in 1982 deur pastoor Christiaan Führer by die St Nicholas Kerk in Leibzig begin. Slegs ‘n handjievol mense het aanvanklik elke Maandag vir die gebede opgedaag. Deur die jare het die getalle aangegroei en in 1989 het dit in Leipzig en ander stede tot vreedsame betogings, bekend as Maandag Betogings gelei.

Uiteindelik sou gemeentelede van die St Nicholas Kerk en ander kerke ondanks hulle vrees vir ‘n massaslagting aansluit by betogers op die  Augustus-plein. Hierdie betoging op Maandag, 9 Oktober 1989 sou aangroei tot ‘n skouspel waartydens sowat 70 000 mense kerse gedra het.

Op die laaste oomblik het die derduidende polisielede wat teenwoordig was, teruggetree en die betogers verbygelaat. Die gebeure was ‘n seismiese oomblik en die beeldmateriaal is in die komende weke regoor Oos-Duitsland uitgesaai. Dit het natuurlik tot verdere Maandag Betogings gelei en die Oos-Duitse leier, Erich Honecker, het daardie Oktober bedank.

Presies ‘n maand na die gebeure op 9 November het die Muur geval.