Gautrein-kraker vasgevat

’n IT-spesialis wat die Gautrein Bestuursagentskap se rekenaarstelsel met bankkodes, wagwoorde en finansiële besonderhede van personeel gekraak het, is in hegtenis geneem en sodoende is die moontlike diefstal van R800 miljoen voorkom.

Die man is deur die Valke by sy huis in GaRankuwa in hegtenis geneem. Nie die polisie of die Gautrein-bestuur kon die presiese bedrag noem waartoe hy toegang gehad het of wat hy beoog het om te steel nie. ‘n Ingeligte bron het egter die media meegedeel dat hy toegang tot meer as R800 miljoen gehad het.

Die verdagte het 18 maande by die Gautrein Bestuursagentskap gewerk, maar sy kontrak is enkele weke gelede beëindig. Hy het blykbaar gespesialiseerde rekenaarsagteware en toestelle gebruik om die finansiële stelsel te kraak. Dit is tydens ‘n roetine-ondersoek op die stelsel ontdek.

‘n Bedrag van sowat R250,000 is reeds deur hom na sy eie bankrekening oorgeplaas, maar hy kon nie die bron van die geld aan die Valke verklaar nie.

Die verdagte sal op Woensdag, 13 November in die hof vir gespesialiseerde kommersiële misdaad in Johannesburg verskyn op aanklagte van bedrog, korrupsie en ‘n oortreding van die Wet op Elektroniese Kommunikasie.