Gaan Republikeine skoonskip maak?

Die Amerikaanse middeltermyn verkiesing word Dinsdag 4 November gehou te midde van verwagtinge dat die Republikeine die nodige ses setels sal kry om beheer oor die Senaat te neem.

Die Amerikaners stem tans regoor die land vir Kongreslede, senators en goewerneurs.

Die Republikeine kraai reeds koning in die Huis van Verteenwoordigers en volgens meningsopnames sal dat dit net so bly. Indien die Republikeine boonop die Senaat oorneem, sal hulle die hele Kongres beheer en kan begin druk uitoefen om hulle agenda deur te voer. Dit kan beduidende reperkussies vir die president Barack Obama se partyprioriteite soos immigrasie en gesondheidsorg inhou.

Daar is ook sprake dat heelwat koppe sal rol indien die Demokrate moet terugstaan, maar op hierdie stadium word daar nie verwag dat topadviseurs se name ter sprake is nie.

Sewe state word as sleutelsetels beskryf in die wedloop tussen die Republikeine en die Demokrate om die Senaat te beheer. Dit is Kentucky, Alaska, Iowa, Noord-Carolina, LouisianaColorado en Kansas.

Daar word voorspel dat die Demokrate in state soos Colorado en Iowa sal verloor  en dat moontlike onbesliste uitslae in Louisiana en Georgia ‘n definitiewe uitslag tot in Januarie kan vertraag. Die Republikeine is blykbaar seker om ten minste in Wes-Virginië, Montana en Suid-Dakota te wen. Vroeë aanduidings is dat daar darem ‘n sprankie hoop vir die Demokrate in Noord-Carolina en New Hampshire is, maar die party se kandidate is ook maar net-net aan die wenkant.

Die middeltermyn verkiesing word toenemend beskou as ‘n tipe referendum oor Obama se prestasie tydens sy tweede termyn as president. Hy het glad nie goed gevaar in meningsopnames wat die afgelope jaar gehou is nie, en is in ‘n opname in Julie vanjaar selfs as die ongewildste president sedert die Tweede Wêreldoorlog genomineer.

Boonop tel die geskiedenis teen die Demokrate. Middeltermyn verkiesings in ‘n president se sesde jaar van sy tweede termyn het gewoonlik groot verliese vir die party wat die Withuis beheer, meegebring.