FN se klag word deur MRK ondersoek

Front Nasionaal (FN) is deur die Direkteur van die Mensregtekommissie genooi vir ‘n dringende vergadering na aanleiding van die klagtes van menseregteskendings wat die party gelê het namens Clive Derby-Lewis. 

Die vergadering het plaasgevind op Dinsdag 25 November by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie in Johannesburg

Die vergadering het glo volgens FN positief verloop.  Die MRK was geïnteresseerd in bewyse van administratiewe nalatigheid by Korrektiewe Dienste en die feit dat Derby-Lewis se gesondheid sodanig verswak het dat hy reeds die gebruik van een long verloor het as gevolg van kanker.

FN het die brief wat die Departement Korrektiewe Dienste (DKD) aan Front Nasionaal gestuur het, voorgehou waaruit dit blyk dat die aangeleentheid eerder polities as juridies van aard is.

Die  Kommissaris van die MRK het aangedui dat daar beslis ‘n saak is wat ondersoek moet word en dat ‘n besoek aan Derby-Lewis die volgende stap sal wees.