Eskom vreet diesel en oeste kom tweede

Boere kan ’n dieseltekort in die gesig staar weens Eskom se volgehoue vraag na diesel.

Wes-Kaapse vrugte- en koringboere is nou in hul spits­oestyd en ondervind reeds dat daar slegs ’n beperkte hoeveelheid diesel met ’n swaelinhoud van 50 dele per miljoen (50dpm) by ‘n bepaalde maatskappy beskikbaar is.

Moderne oesmasjinerie gebruik die skoner 50dpm-diesel en kan nie die 500dpm-diesel gebruik nie.

Dieselvoorraad is tans knap in die provinsie want Eskom kry voorkeur om die oopsiklus-gasturbines by Atlantis asook ander dieselkragstasies, Gourikwa by Mosselbaai, Port Rex in Oos-Londen, en Acacia by Goodwood, met diesel aan die gang te hou.

Indien die dieselvoorraad nie binne enkele dae aangevul word nie, gaan die boere vasbrand.