Eskom hardloop op beperkte diesel

Die kragnetwerk in die land sal na verwagting onder druk bly gedurende die eerste deel van die week.

Die moontlikheid dat beurtkrag Maandag en Dinsdag toegepas sal word, word van medium tot laag beskryf.

Kommer bestaan wel dat Eskom se dieselvoorraad nie genoeg sal wees nie en dat dit teen die einde van die week probleme kan veroorsaak. Eskom se alternatiewe kragstasies wat diesel gebruik word nou “prakties permanent” gebruik, aldus woordvoerder van Eskom, Andrew Etzinger. Indien Eskom sy oopgasturbines oor die eerste paar dae van die week “hard moet laat loop”, sal hy sy dieselreserwes uitput, het hy die media meegedeel.

Eskom se probleme het aan die begin van November begin toe ‘n steenkoolsilo by die Majuba-kragstasie in Oos-Transvaal op die vervoerbandstelsel ineengestort het. ‘n Tweede silo by die stasie is blykbaar besig om weens verwering te kraak.

Majuba is die nuutste en grootste kragstasie in die land. Daar kan nie veel verligting verwag word van die Medupi- en Kusile-kragstasie nie aangesien bouwerk aan albei agter skedule is.

Beloftes dat die Medupi-kragstasie se eerste opwekkingseenheid op 24 Desember aangeskakel sou word, sal volgens die kragkenner, Chris Yelland, nie nagekom kan word nie.