Egpaar herstel na plaasaanval

Twee plaasterroriste word deur die polisie gesoek na aanval op ‘n bejaarde egpaar van Wes-Transvaal op hul plaas, Syferpan, tussen Lichtenburg en Coligny.

Hardus Otto (78) en sy vrou, Marie (76), sterk tans aan by hulle dogter op Coligny na die aanval.

Meneer Otto het beserings opgedoen weens die hardhandige behandeling van die misdadigers. Hulle het hom vasgebind terwyl hy met ‘n vuurwapen teen die kop aangehou is. Hy is gedreig dat hulle kookwater oor hom gaan gooi omdat hulle ontevrede was oor die min kontant wat hulle kon buit.

Talle items is gesteel, waaronder geld, elektroniese toerusting, Krugerrande, ’n pistool, ammunisie en juweliersware asook die egpaar se selfone. Die aanvallers het te voet gevlug na ‘n voertuig wat vermoedelik langs die pad op hulle gewag het.

Die egpaar kon ná die aanval daarin slaag om na hul dogter, Christine, op Coligny te ry.