Edele konferensie

By ‘n onlangse glansgeleentheid wat plaasgevind het by die Savoy Hotel in Kimberley het van die hotel se eerbare klante op eerbare manier die eer van eerbaar  vervang met bar om ‘n ander karakter te toon. Die verskil wat hierdie drie letters maak vooraan baar, is 36 bierglase, een duur eikehoutvoordeur, ses kroegstoeltjies, ‘n groot spieël, vier ruite, 70m2 se nuwe mat en die koste van ‘n spesialis skoonmaakdiens wat bloed, sweet en urinevlekke kan verwyder.

Die eerbare glansgeleentheid waarna ek verwys is natuurlik die eerbare konferensie van die agbare hoogedele lede van ‘n organisasie wat hulself noem die EVV (Edele Vriende van Vrede). Hoeveel van die konferensie wel plaasgevind het weet ek nie, want dit klink vir my of die groot vrede uitgebreek by die aankoms van die agbare lede.

Het u al agtergekom hoe die strate, na een van die vreedsame optogte waaraan hierdie eerbare lede deelneem, besaai lê met glasstukke, klippe, halwe bakstene, stokke en ysterpype? Ek wonder altyd waar die goed vandaan gekom het!? Daar was nie vooraf ‘n hoop van hierdie items in die straat nie! Dra hulle dit saam van die huis af of is daar winkeltjies wat dit verkoop langs die pad? Hoeveel kos ‘n stok dan en moet jy jou bakstene self in die helfte deur breek of kan jy ‘n halwe koop? 

By die konferensie in die Savoy is blykbaar ook deur die agbare lede gebruik gemaak van pangas, bakstene stokke klippe en meubels om hul punte te maak. Wie vat sy panga saam na ‘n konferensie toe?

Nietemin, die konferensie het toe opgelewer wat daarvan verwag is en om almal gerus te stel sal die oorlogskommitee die saak uitsorteer. Ek dog dit was die oorlogskommitee wat die vergadering gelei het…!

Tot volgende slag

Die Sweep