Duur nasorg om skuld in te vorder

Plaaslike owerhede se powere vermoëns om agterstallige skuld in te vorder, besorg die ouditeur-generaal nie verniet al hoe meer hoofbrekens nie.

Die Pretoria metroraad het glad 30 maatskappye aangestel om te help om elektrisiteitstoevoer van entiteite met agterstallige skuld af te sny. Skuldinvorderaars is ook aangesê om regsaksies te versnel om teen skuldenaars op te tree.

Tot dusver is net R312 miljoen van die R6,5 miljard se agterstallige skuld aan die metroraad betaal. Privaat huiseienaars skuld die oorwig van die uitstaande bedrag met R3,6 miljard. Besighede skuld glo R1,8 miljard en regeringsdepartement R424 miljoen. Die res word deur werknemers geskuld, maar van watter instansies hulle is, word nie gespesifiseer nie.