Duur konjak nou te koop

As iemand ’n voorliefde het vir “goeie konjak”, dan sal dit nodig wees om reëlings met die bank te tref, want goeie konjak word betaal met goeie geld.

Die wêreldbekende Louis XIII Rare Cask 42,6 Cognac is vandag die heel duurste konjak wat in die ope mark beskikbaar is en dit is nou selfs vir ’n paar vermoënde konjak liefhebbers van Suid-Afrika moontlik om daarvan aan te skaf.

Die prys is wel nie uitermatig hoog vir welvarendes nie, maar die gewone man sal sukkel om R300,000  bymekaar te skraap, of om net minder as R10,000 op te dok vir ’n enkele dop.

Dit is egter nie asof die bottels konjak nou by elke supermark op die rak staan nie.

Slegs vier bottel van die gesogte voggies is vir Suid-Afrika toegeken, waarvan een bottel reeds verkoop is aan ’n anonieme versamelaar in die land.

’n Totale produksie van 738 bottel is beskikbaar en word wêreldwyd bemark, en in Suid-Afrika kan een van die drie bottels by Makro & Norman Goodfellows verkry word.

Die voorgestelde verkoopsprys vir ’n bottel “gewone” Louis XIII Cognac is in die prysklas van R40,000.