Droomreis op trekker na Suidpool

Die trekker-meisie, Manon Ossevoort, en haar Antarktika2-span sou, afhangende van die weer, oor die naweek vertrek om die laaste been van haar droomreis op ‘n trekker te voltooi.

Afgesien van ‘n temperatuur van minus 40°C tydens ‘n onlangse storm waartydens die wind 50 myl per uur gewaai het en die windkoue minus 50°C was, was die span heel positief dat die ekspedisie na die geografiese Suidpool sou kon begin.

Die span het darem voor die tyd in Ysland geoefen om uiterste koue temperature gewoond te raak. Manon se benadering: “soms moet mens net deurdruk en iets doen,” bewys wel van watter stoffasie sy gemaak is en met watter benadering sy die uitdaging aanpak.

Sy wil ook aan die wêreld wys dat daar ook mooi dinge is. Sy gaan juis na hierdie koue Poolstreek reis omdat daar nog nooit oorlog was nie.

Manon se droom is om ‘n sirkelroete van bykans 5 000 km oor die grootste enkele massa ys op aarde, vanaf die vliegveld by die Russiese Novo-navorsingsbasis in die oostelike deel van Antarktika na die Suidpool en weer terug tot by die beginpunt voltooi.

Vir Manon is hierdie ‘n droom wat waar geword het aangesien haar pelgrimstog reeds in 2005 begin het toe sy vier jaar geneem het om met ‘n trekker van haar tuisdorp in Nederland tot in Kaapstad te ry. Sy het weens oponthoude die boot verpas wat haar na Antarktika sou neem. Sy het die volgende vier jaar in Nederland deurgebring en onlangs weer na Suid-Afrika teruggekeer om die finale been van haar droomreis te voltooi.

Manon wil ‘n yslike sneeuman by die Suidpool bou waarin sy die derduisende e-posse en stukkies papier van mense se drome (en ideale) wat sy regoor die wêreld bymekaar gemaak het en tot digitale vorm verwerk het, wil plaas. Dit moet eers oor 80 jaar oopgemaak word.