Digitale aktivisme in oënskou

Sosiale media het ‘n magtige wapen geword, soos die Suid-Afrikaanse openbare figure, Steve Hofmeyr en Gareth Cliff, kan getuig.

Die twiet of Facebook-kommentaar word geskryf, die knoppies gedruk en dit trek die wêreld vol. Dan kom die reaksies en sake kry momentum.

Die rol wat sosiale media in die aanloop tot die Arabiese Lente gespeel het, is by herhaling uitgewys. Amper iets soos die tong wat ‘n vuur aansteek. In een van die jongste verwikkelinge is ‘n hofbevel verkry om een van die rolspelers, Conrad Koch, te stop om bepaalde opmerkings op sosiale media (teen Hofmeyr) te maak.

Wat egter baie opmerklik is dat die reaksie op Hofmeyr en Cliff se opmerkings toon dat openbare debat glad nie enigsins ‘n plek in Suid-Afrika het nie. Maar dit verg eers die bestanddele voordat die koek gebak kan word. Dan moet Eskom nie beurtkrag toepas of die misdadigers nou alweer die koperkabels gesteel het nie, anders werk die stoofoond nie.

Cliff vra wie het vir die sokkerkaptein, Senzo Meyiwa, se begrafnis betaal en hy word deur die sogenaamde “Black Twitter” as ‘n “rassis” uitgekryt en gevra of enige iemand vrae gestel het toe die staat vir dr. Verwoerd en PW Botha se begrafnisse betaal het. Boonop word daar sommer besluit dat hy geen respek vir die dooies het nie.

Cliff staan bykans reglynig teenoor Hofmeyr se Afrikaanse-beeld, maar ‘n swart “studente aktivis” skryf in ‘n lang koerantbrief dat Gareth Cliff iets in gemeen het met Steve Hofmeyr want “julle loopbane word in stand gehou deur omstredenheid te veroorsaak.”

Steve Hofmeyr se uitlatings dat swartes die eintlike argitekte van apartheid is, sou inderdaad verkieslik in die hele konteks van sy oorspronklike boodskap daaroor gelees en verstaan moes word. Maar die buikspreker en komediant, Conrad Koch, het sy rubriek getiteld, “Dear white supremacists…”, in The Times  gebruik om die borgskappe van Pick n Pay en Land Rover vir die “Afrikaans is Groot”-fees in gedrang te bring.

‘n Titel soos ““Dear white supremacists…” en die (buikspreker-)pop, Chester Missing, getuig bykans van ‘n afkeer vir die eie kultuur, eie gebruike, die nasionale volksidentiteit en geskiedenis. Dit alles word belaglik gemaak, verswak en beskimp. Die akademikus, Thierry Baudet, noem dit oikofobie (die teenoorgestelde van xenofobie).

Dit betrek sommer dadelik die feit dat Hofmeyr gedurig pakslae kry indien hy iewers “Die Stem” sing.  Is daar enigiets in “Die Stem” wat enigsins kan aanstoot gee? Onomstootlik nee. “Die Stem” is net ‘n kunswerk wat deur ‘n blanke skrywer, CJ Langenhoven, geskryf is voordat stigmatiserende politieke terme gebruik is om propaganda aan te stig.

Langenhoven het egter bepaald iets van Baudet se filosofiese denke beetgehad met sy  wysheid: “skeur jou los van jou eie nasie af en verwonder jou dat die ander nasies nie oormekaar val om jou in te neem nie.”

Hy sou as die rubriekskrywer onder die naam, “Sagmoedige Neelsie”,  van sosiale media gehou het, want hy was met sy buiteruimtelike, Loeloeraai, sy tyd ver vooruit.  Langenhoven was alombekend vir sy skerp intellek en sou dalk tog sake deeglik deurdink het voordat hy by wyse van spreke met sy geliefde olifant, Herrie, ingestorm het.

Hofmeyr is ‘n supergewilde kunstenaar en saam met die ander kunstenaars waarmee hy by “Afrikaans is Groot” gaan optree, het hulle gesorg vir 80,000 kaartjies wat verkoop is. Hy sê aan sy aanhangers dat hy hulle by die fees gaan sien “want jy is ons belangrikste borg”. Land Rover en Pick n Pay het besluit om hulle borgskappe vir die fees te “hersien”.

Dit kan ook ‘n hersiening van ondersteuning en koopkrag noodsaak. Ter wille van oefening om (op sosiale media) te mobiliseer, ter wille van die eie, vir Afrikaans, vir die Afrikanervolk.