Dieselfde kruispad as in Rebellie bereik (1914 en 2014)

Vanjaar word die Rebellie van 1914 herdenk. Die Boerevolk neem met dieselfde Rebelle-bloed in sy are dadelik volle eienaarskap van die geskiedkundige gebeure presies ‘n honderd jaar gelede.

Nuusgebeure wat besig is om te ontvou, gee in bepaalde kringe blyke daarvan dat daardie selfde Rebelle-gees steeds deel is van ‘n weiering om in die huidige bestel diegene te omhels wat volksvreemdes eerder dien as om hulle eie volksgenote te kies. Desjare was dit generaals Smuts en Botha wat geswig het voor Engelse geld en die roem van eretitels. Die skokkendste is dat die wortels van hierdie mantelswaaiery reeds na die Tweede Vryheidsoorlog teruggespeur kan word.

Teenoor Smuts en Botha was daar iemand soos genl. Christiaan de Wet oor wie die ware verhaal bestaan dat hy tydens ‘n oorsese besoek in 1902 net na die Tweede Vryheidsoorlog botweg geweier het om ‘n uitnodiging van die Engelse aan te neem om Waterloo te besoek (MCE van Schoor). Sy woorde wat volgens oorlewering in sy mond gelê word, is dat hy nie na ‘n plek sou gaan waar ‘n vyand van sy volk ‘n oorwinning behaal het nie. Afgesien daarvan dat hy vanweë sy ouwêreldse hoflikheid waarskynlik dit nie teenoor die Engelse geopper het nie, bly die beginsel dieselfde. En dit is dat hierdie Boere-generaal ‘n beginselvaste volksman was met die nodige insig in wat die Engelse eintlik mee besig was, naamlik om te beïndruk en selfs om sout in die wonde van die Boere te probeer vryf.

Die ironie is dat De Wet beter as enigiemand geweet het dat daar tydens die laaste helfte van die Tweede Vryheidsoorlog ten beste skaars by tye 14 000 Boere in die veld teen meer as 240 000 Britte was. Bowendien sorg die Engelse dat dit onder die mat gevee word dat hulle nie die oorwinning teen Napoleon by Waterloo sou behaal het nie, indien Pruisiese soldate nie op die nippertjie tot hulle redding gekom het nie. Die Pruisiese aanvoerder, Gebhard Leberecht von Blücher, was 72 jaar oud tydens die Slag van Waterloo en was die enigste man wat Napoleon meer as een keer verslaan het.

Waarom dan hierdie episode en die Slag van Waterloo (1815) byhaal? Dit handel heel eenvoudig daaroor dat mense hulle so maklik laat beïndruk en laat omkoop deur geld en goed. In die geskiedenis van die Boerevolk het dit juis gelei tot die Rebellie.

In plaas daarvan dat Botha en Smuts hulle by hul volksgenote geskaar het en daarvolgens opgetree het, het hulle hulle vervreem van hulle eie volk en die handlangers van die Engelse geword. Generaal De Wet en sy geesgenote het met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog gereken dat Botha (en Smuts) die onderneming moet nakom dat die Boerevolk se onafhanklikheid  wat by Vereeniging op die altaar geplaas is, ten volle teruggeneem moet word.

Hierdie botsende denkrigtings het gelei tot die Rebellie in 1914. Dit het tragiese gevolge gehad en die nadraai was verreikend. Die Rebellie was destyds waarskynlik die sterkste  katalisator en stimulus ten opsigte van die bewuswording van die Afrikaner as ‘n volk op kulturele en politieke gebied.

Vandag word teruggekyk na die Rebellie-tyd in 1914-1915 toe die Nasionale Party en Nasionale Pers-koerante gestig is. Indertyd was dit die draers van Afrikaner-nasionalisme gewees, maar het mettertyd en tot en met die mees onlangse verwikkelinge in Afrikaner-volksgeledere die Botha-Smuts-pad bewandel.

Die vurk in die pad kon destyds nie veel langer uitgestel word nie. Genls. De la Rey en Kemp boet immers met hulle lewens omdat hulle soos baie ander leiers en volksgenote nie die pad wat Botha en Smuts al lankal op was onder oë wou sien nie.

Insgelyks bly die Afrikanervolk die afgelope jare al ‘n geruime tyd by ‘n kruispad staan, net om daar met ‘n gewik en weeg kosbare tyd te vermors. Die huidige redusering van die Afrikanervolk tot ‘n blote groep en die bevraagtekening van wie hierdie sogenaamde “groep” dan sou verteenwoordig, sou seker ook met nuanse-verskille ‘n honderd jaar gelede gevra kon word. 

Diegene met ‘n duidelike volksidentiteit en die nodige integriteit was De Wet- en Hertzog-ondersteuners. Hulle sou nie na Waterloo gaan nie. Hulle wou nie teen die Duitsers in Duitswes-Afrika gaan veg nie. Hierdie Duitse volk wat roemryke Pruisiese militariste opgelewer het, was dan nog net nou die dag in die Tweede Vryheidsoorlog die Boerevolk goedgesind. Let op die klemplasing op die gewone Duitse bevolking om hulle te onderskei van die Duitse keiser wat familie was van koningin Victoria en sy was meer Duits as Engels.

Dit word lojaliteit teenoor eerstens jou eie volk en dan teenoor diegene wat jou goedsgesind is, genoem. Genl JBM Hertzog se uitgangspunt was immers dat die Afrikanervolk eerste gestel moet word. Die keuse wat in 2014 gemaak moet word, bly dieselfde as tydens ‘n volksbetoging (in die aanloop tot die Rebellie) toe genl. De Wet sy skare verseker het: “ek my liewer op ‘n mishoop onder my volk bevind as op die skitterende spreekgestoelte onder vreemdelinge” (MCE van Schoor).