Diep krake in verskonings oor krag

Verbruikers kan hulle regmaak vir duur en onbetroubare Eskom-krag.

Elektrisiteitsvoorsiening sal vir die onvoorsienbare toekoms op ’n mespunt bly, aldus die instansie se uitvoerende beampte, Tshediso Matona.

Die afleiding hieruit is dat verbruikers hulle moet regmaak vir beurt- of geen krag.

Weens ‘n verhoging in kragtariewe vanaf April aanstaande jaar kan bepaalde verbruikers gemiddeld 13% meer vir elektrisiteit betaal. Die 13% tariefverhoging deur die Nasionale Energiereguleerder (Nersa) is ’n ekstra toegewing wat aan Eskom gemaak is.

Nersa het beslis dat Eskom se inkomste met R7,8 miljard verhoog moet word. Eskom se tariewe sal aanstaande jaar met 8% verhoog. Nersa het egter ’n bykomende 5% toegegee. Nersa sou net besluit watter kategorieë van Eskom se kliënte watter hoeveelheid van die bykomende R7,8 miljard moet bydra. Die belangrikste kategorieë is munisipaliteite, verskillende nywerheidsgebruikers en myne.

Eskom se tariewe het sedert 2009 met 138% verhoog, voer analiste aan. Eskom beoog egter om weer in Maart die reguleerder te nader om sy vyfjaarlikse prysverhogings aan te pas om sodoende nog meer uit verbruikers te probeer pers.

Hierdie duur kragvoorsiening word toenemend onbetroubaar. Die argument dat ou infrastruktuur een van Eskom se grootste probleme is, val plat as daar na gebeure by Majuba-kragstasie gekyk word. Veeleerder laat swak bouwerk én instandhouding asook ‘n gebrek aan kundigheid die land in die donker.  Majuba is die nuutste en grootste kragstasie in die land. Een silo het reeds by Majuba in Oos-Transvaal op die steenkoolvervoerstelsel ineengestort en Eskom het enkele dae gelede darem erken dat ‘n tweede silo ook kraak.  Daar word beweer dat herstelwerk by die Majuba-kragstasie tot twee jaar kan neem.

Die gesanik oor die gebrekkige invordering van munisipale skuld wat Eskom ook sou kniehalter, kan sommer gepak word deur Soweto se agterstallige elektrisiteitskuld in te vorder. Soweto skuld Eskom nagenoeg R3,6 miljard. Dit is aansienlik meer as die R2,6 miljard wat die hele land se munisipaliteite Eskom skuld. Berigte oor hierdie agterstallige skuld wat deur die jare net afgeskryf word, gee blyke van die 1,5 miljoen Soweto-inwoners asook die owerhede se ingesteldheid ten opsigte van die betaling vir dienste.  Van die inwoners het in 14 jaar nog nooit ‘n kragrekening betaal nie, en is trouens ook nie van plan om te betaal nie.

Die ANC het glo vae beloftes gemaak van gratis kragvoorsiening in ruil vir stemme, natuurlik.