Dapper optrede laat aanvallers vlug

‘n Bejaarde pa en sy dogter kon daarin slaag om hulself met knipmesse te verdedig toe hulle op Jonkershoek buite Stellenbosch aangeval is.

Riana Daffue en haar pa, Kobus Snyman (82 jaar) en sy vriendin is deur drie jong mans aangeval terwyl hulle by die Rozendal-reservoir op Jonkershoek gaan stap het.

Hulle aanvallers het hulle omsingel en geld geëis. In die daaropvolgende stoeiery is een van die aanvallers raak gesteek waarna hulle weggehardloop het. Daffue is in die hand gesteek terwyl haar pa kneusplekke opgedoen het. Sy vriendin, ook in haar tagtigs, is ongedeerd.

‘n Polisiebeampte het hul oproep om hulp na die aanval bloot beantwoord deur te sê hy is besig. Daffue het na haar tevergeefse oproep ‘n vriend geskakel wat hulp ontbied het. Sy is ook baie onsteld omdat mense naby aan hulle was tydens die aanval, maar niemand het hulle te hulp gesnel nie.

Sy en haar pa, afkomstig van Warmbad, het in die Wes-Kaap gaan kuier, maar dra altyd knipmesse by hulle.