Cyril se voorstel afgelag

Die land se Adjunk-president, Cyril ­Ramaphosa, se uitlating dat daar nou ’n sogenaamde moratorium geplaas word op alle uitsettings van plaaswerkers, word as “politiekery” afgemaak en afgelag.

Verskeie landbouleiers en arbeidskenners sê die opmerking is lagwekkend, komende van die adjunk-president van die land.

Ramaphosa het blykbaar gepoog om sy eie gewildheid te versterkasook dié van die ANC toe hy aan ’n klompie toehoorders tydens ’n geslote vergadering gesê het die regering en landbouers het saamgestem dat daar ’n moratorium uitgeroep moet word op uitsetting van plaaswerkers.

“Ek doen ’n ernstige beroep op boere om mense nie van hul plase af te sit nie, en as daar so ’n plan was, dit onverwyld te stop.”

Woordvoerders van die ANC en vakbonde het die “aankondiging” verwelkom.

Verskeie landbouleiers het ontken dat hulle op enige stadium ingestem het dat so ’n moratorium ingestel word.

Een boer het gesê as die adjunk-president ernstig was toe hy dit gesê het, dan kan hy as ’n leuenaar bestempel word.

Na afloop van die vergadering het Ramaphosa glo aan boere wat ook op die vergadering teenwoordig was, gesê hulle moet optree asof daar werklik ’n moratorium bestaan.

Van die landbouleiers het gesê die optrede van Ramaphosa spreek van uiterste swak leierskap en word in die lig gesien dat dit hoogstens ’n poging was om sekere elemente se guns te wen en boere daardeur benadeel.

Ontleders meen dat Ramaphosa heel waarskynlik daarmee die eerste sooi gespit het om betogings aan die gang te kry sodra daar weer ’n uitsetting is.

“Die plaaswerkers beskou die adjunk-president se uitlating as ’n gegewe feit dat daar ’n verbod op uitsettings is, en wat enige uitsetting wat nou mag volg, as onwettig beskou sal word, en dit gaan tot verdere arbeidsonrus lei”, word gesê.

.