Crinum bulbispermum / Oranjerivierlelie

Die Oranjerivierlelie is ‘n groot bolplant in die Amayllidaceae (Amarilla) familie. Crinum bulbispermum se blomme vertoon nes die Amarillalelies se pragtige klokvormige blomme. Dit is ‘n fassinerende plant wat ons by inheemse kwekerye kan kry. Hierdie lelie kom wydverspreid in Suid Afrika, Lesotho en Swaziland voor. Dit kan ook in Florida, Texas, Louisiana, Alabama, Kuba en in Honduras gevind word.

Die Oranjerivierlelie het ‘n groot bol wat soms tot 20 cm in deursnee kan word. Uit hierdie bol groei lang lintvormige blare. Die blare word tussen 75 cm en 95 cm lank en is ‘n groen/grys sagte blaar. Die plant self kan tot 1 meter hoog word met ‘n redelike dik sterk stam. U sal verstom staan oor die pragtige blomkelke in kleure wat wissel van ligpienk, donkerpienk, wit, pienk met donkerpers strepe, wit met pienk strepe en nog vele meer. Die blomme verskyn in massas gedurende die lente tot middel somer.  Die blomme ruik soet.

Daar kan in sommige warm klimate meer as eenkeer blomme verskyn. Die blomme ontwikkel groot sade wat in  kapsules gehou word. Hierdie kapsuulsakkie raak swaarder en dan buig dit af na die grond en die sade sal dan uitval en so verder verplant. Hierdie sade skiet sommer baie maklik wortel. Dit kan ook in potte geplant word, maar dit word ‘n redelike groot plant. Die plante hou nogal van baie water en groei die beste in watertuine. In die natuur sal ons hulle langs riviere en waterstrome vind. Die blomme hang aan ‘n lang steel wat bokant die blare uitsteek en dra tot 13 blomme aan ‘n steel.

Wanneer die plant se groei verminder en gedurende die wintermaande, vorm daar papieragtige “velle” wat die plant beskerm teen uitdroging. In sommige kouer gebiede sal die plante heeltemal dormant gaan gedurende die wintermaande.

Insekte geniet ook hierdie plante en hulle help dus met bestuiwing. Volgens bronne het die plant medisinale waarde en die blare in in warm water geweek word en die warm blare kan dan om verstuitings gedraai word soos ‘n verband, maar moet dikwels geruil word met warm blare.  Selfs die bol kan opgesny en warm gemaak word om as wonddekking te dien op pitsere, aknee en wonde wat stadig genees.

Onthou om altyd eers u geneesheer te raadpleeg indien u van enige plante as geneesmiddel gebruik wil maak.

Tuiniers geniet al die lelies wat nou oral in u tuin in die blom is.