Chinese se ivoor-handel wek kommer

Die besoek van die Chinese president, Xi Jinping, aan Tanzanië het skynbaar geleentheid geskep vir Chinese sakemanne om onwettige ivoorhandel te bedryf wat nou tot grootskaalse olifantstropery gelei het.

Die Londense Environmental Investigation Agency (EIA) beweer glo dat sakemanne en hoë profiel sakeleiers misbruik gemaak het van die geleentheid om ivoor te bekom op maniere wat as onwettig beskou word.

Met China as die grootste invoerder van ivoor, en Tanzanië met die grootste ivoor voorraad, blyk dit dat daar grootskaals gesmokkel is met ivoor.

Volgens ’n verslag van die EIA was olifantstropery in Tanzanie so hewig in die afgelope vyf jaar dat dit die helfte van die land se olifantbevolking uitgewis het.

Na bewering het bendes saam met korrupte amptenare in die land gewerk om die ivoor te verkwansel aan Chinese sakelui, maar die Chinese Departement van Buitelandse Sake het die bewerings ontken.

In die verslag van die waghond-organisasie EIA word beweer dat ’n sakeman in 2013 ’n transaksie met Chinese amptenare aangegaan het ten bedrae van R560,000.