Brandstof prys verlaag weer!

Die verwagte verlaging in die brandstofprys is bekend gemaak en sal in werking tree op Woensdag 5 November.

Die prys van beide oktane petrol sal verlaag met 45c per liter. Diesel met ‘n swaelinhoud van 0.05% verlaag met 61c per liter en 0.005% verlaag met 60c per liter.

Paraffien verlaag met  70c per liter en gas (LPG) verlaag met 105c per kilogram.

Die Brent ru-olieprys het die afgelope weke teen ongeveer $80 per vat verhandel teenoor die meer as $100 twee maande gelede. Die Suid-Afrikaanse rand het ook in Oktober begin verbeter en onder R11 teenoor die VSA dollar verhandel.

Die rand bly steeds broos en verswak telkens as daar iewers plaaslik of oorsee ekonomiese nuus bekend gemaak word wat nie positief is nie. Met Europa wat die winterseisoen binnegaan sal die vraag na ru-olie toeneem en dit kan waarskynlik die ru-olie prys laat styg. Daar is ook ‘n sterk moontlikheid dat die ANC regering direk na die komende plaaslike verkiesings verdere heffings op die brandstofprys sal plaas om hulle tekorte te finansier.