Bosluise vreet boer se wins

Bosluise veroorsaak dat die boer dikwels swaar verliese ly as daar nie betyds en deurlopend teen die plaag opgetree word nie.

Bosluise is dikwels die oorsaak dat melkproduksie met sowat 6 tot 7% kan daal, maar kan ook die oorsaak wees van gewigsverlies by speenkalwers wat wissel van 12 tot meer as 40 kg per enkele dier.

Die inligting is vrygestel in ’n verslag van dr. Pierre van Niekerk, ’n kenner van bosluissoorte en hulle bedrywighede wat die boer se wins verteer.

Hy sê boere moet meer bewus raak van die nadele wat bosluise vir die bedryf inhou, en moet die bosluis soorte ken om te weet wat gedoen moet word om elke soort te bestry op die plaas.

Hy het daarop gewys dat parasiet bekamping nie noodwendig met gifstowwe gedoen word nie, maar eerder kennis oor die plaas en die lewensiklus van die parasiete.

Indien die bosluise verkeerd beveg word met middels, word weerstandigheid bevorder, en daarom is dit belangrik om die verskillende bosluissoorte te ken en te weet hoe om hulle te bestry.