Boewe vry op borgtog

Twee vermeende boewe wat mev. Gerda Botha (34) van Naboomspruit aangeval het op hulle plaas, en later in hegtenis geneem is, is in die streekhof op borgtog van R1000 elk vrygelaat nadat die staat nie die aansoek teengestaan het nie.

Die twee swartes het mev. Botha in haar plaashuis vasgebind en aangehou terwyl haar elfjarige seun daarin kon slaag om in die veld weg te kruip.

Na bewering is Bento Kambimda (40) en Max Mumbumbu (38) verantwoordelik daarvoor dat die elfjarige Dean in die veld moes skuil tot hy die blou ligte van aankomende polisievoertuie gewaar het.

Gerda is deur die twee mans gedwing om die huis se geweerkluis oop te maak waarna hulle die wapens, goue juwele, kontant, ’n rekenaar en selfoon gesteel het.

Die vinnige optrede van die boere in die omgewing het daartoe gelei dat die twee boewe vinnig aangekeer is, maar die nalatigheid van die polisie word sterk veroordeel deur die boere en Gerda se familie.

Beide swartes is burgers van die land, maar is glo in Suid-Wes gebore.