Blink vooruitsigte wag vir Republikeine

Die Republikeine is besig om fluks te vorder in die Amerikaanse middeltermyn verkiesing en kan die skaal dalk swaai om die nodige ses setels te kry om die Senaat te beheer.

Die uitslae word drupsgewys bekend gemaak vanweë onder meer die groot wisseling in die tydsones op hierdie geweldige groot kontinent en die taai verkiesingstryd tussen die onderskeie kandidate.  Stemmery het ten einde geloop in die strook aan die Ooskus en regoor groot dele van die Midde-Weste. Die finale uitslae sal egter nog ‘n hele ruk neem, en veral die uitslae in Alaska en ‘n paar Suidelike state soos Georgia en Louisiana kan nog heelwat tyd in beslag neem.

‘n Republikeinse oorwinning in Kentucky waar die Republikeinse leier in die Senaat, Mitch McConnell, herkies is, word as ‘n baie soet oorwinning beskou. Die Republikeine het ook in Arkansas en Wes-Virginië verseker dat hulle senaat toe gaan. ‘n Enkele blink ster op die Demokrate se horison is Pennsilvanië, waar die welvarende sakeman, Tom Wolf, gewen het.

Die Republikeine kraai reeds koning in die Huis van Verteenwoordigers en volgens meningsopnames sal dat dit gehandhaaf word. Indien die Republikeine boonop die Senaat oorneem, sal hulle die hele Kongres beheer en kan begin druk uitoefen om hulle agenda deur te voer. Dit kan beduidende reperkussies vir die president Barack Obama se partyprioriteite soos immigrasie en gesondheidsorg inhou.

Die Republikeine vertoon tans asof hulle hierdie keer moontlik gaan skoonskip maak deur vir die eerste keer in ‘n dekade die Huis van Verteenwoordigers en Senaat te beheer.

‘n Heel moedelose Obama het in ‘n media-onderhoud gesê dit lyk asof dit laas in Dwight Eisenhower se presidentskap vyftig jaar gelede so sleg gelyk het vir die Demokrate.

Die middeltermyn verkiesing word beskou as ‘n tipe referendum oor Obama se prestasie tydens sy tweede termyn as president. Hy het glad nie goed gevaar in meningsopnames wat die afgelope jaar gehou is nie, en is in ‘n opname in Julie vanjaar selfs as die ongewildste president sedert die Tweede Wêreldoorlog genomineer.