Bestmed hof toe oor trustees

Die mediese fonds, Bestmed, het ‘n dringende aansoek in die Pretoriase hooggeregshof gebring teen die verwydering van nege van sy trustees deur die Raad op Mediese Skemas (RMS).

Die trustees is enkele dae gelede summier uit hulle poste geskors omdat hulle toegelaat het dat Bestmed derduisende rande vir sogenaamde bemarking opdok.

Dit sluit ‘n safari na Botswana, ‘n helikoptervlug oor die Victoria-waterval, jagtogte en kaartjies vir ‘n konsert en rugbuwedstryde in. Voorts is meer as R111miljoen oor ‘n tydperk van drie jaar aan Sanlam Health Distribution Services, ’n filiaal van Sanlam, vir bemarkings- en verspreidingsdoeleindes betaal.

Die besteding is in 2011 tydens ‘n roetine-ondersoek deur die RMS opgetel, en het nou drie jaar later opgetree. Die syfers wat die RMS in sy mediaverklaring genoem het, word deur Bestmed betwis.

Bestmed is die vyfde grootste oop fonds in die land en het tans meer as 90 000 hooflede en meer as 190,000 begunstigdes.