Baniere basuin swak diens uit

Suid-Afrikaners se opgekropte frustrasie oor swak diens is beslis aan die oorkook.

Die jongste mode om baniere te maak om ongelukkigheid oor dienslewering te adverteer, het hierdie keer Eerste Nasionale Bank (ENB) in die visier. Dit volg kort op die hakke van die woedende Cell C-klant wie se banier oor die Sandton City-tak van die selfoonmaatskappy al in die hof gedraai het.

Nico Niemand se banier handel oor ‘n jarelange stryd met die huisleningsafdeling van ENB.  Hy beweer hy is finansieel geruïneer weens die optrede van die Bank.

Dieselfde banier oor ENB is aan weerskante van ‘n spesiaal gemonteerde raamwerk bo-op ‘n sleepwaentjie gespan en word deur ‘n bakkie gesleep.

Hierdie mobiele banier met ‘n hele ry foto’s van ENB-amptenare, is ‘n ‘verbetering’ op die Cell C-banier wat staties is.  Die selfoon-banier is egter baie strategies deur George Prokas laat opgerig op ‘n muur langs die DF Malan-rylaan (deesdae die Beyers Naude-rylaan) by die World Wear-winkelsentrum in Fairland Johannesburg.

Ondanks ‘n poging om Prokas se boodskap met spuitverf te verander, is daar tot dusver baie voordeel uit die banier gekry.  Cell C se poging om Prokas se aksie deur ‘n hofbevel te laat stuit, het weinig opgelewer. Volgens die hofuitspraak is die vertoon van die banier nie onwettig nie, en bevat billike kommentaar.  Cell C moet boonop die regskoste van die hofaansoek dra.

Op die koop toe bly die banier net pryk waar dit is. Prokas beoog om ‘n nuwe banier te laat maak om die ‘beskadigde’ een, wat hom R60,000 gekos het, te vervang.

’n Woordvoerder van die omgekrapte Prokas sê die banier is egter oor en oor die moeite werd, want dit gee as’t ware ‘n stem aan mense wat nie die geld het om swak dienslewering op die spits te dryf nie.

 

 

Dalk het ENB ‘n les geleer uit die Cell C se hof toe drawwery. Suid-Afrikaners, wat salig keelvol is vir swak dienslewering deur banke, hou intussen die saak met toegespitste aandag dop.