Atha Africa soek steenkool in bewaringsgebied

Atha Africa soek nou mynregte van die Departement van Minerale Hulpbronne in die sensitiewe Mabola-bewaringsgebied (MBG) by Wakkerstroom.  

Die aansoek het onsteltenis by talle instansies veroorsaak. Die Mpumalanga-toeriste-en-parke-agentskap (MTPA) het die aansoek van die Indiese mynreus as korrup bestempel. Die woordvoerder van die MTPA het gesê mynbou is nie veronderstel om in beskermde gebied plaas te vind nie. 

Die MBG is ryk aan vleilande en natuurlewe en is ‘n uiters sensitiewe gebied wat ryk is aan biodiversiteit. Dit is ook die opvangsgebied van die Pongolarivier. 

Kholofelo Nkambule, segsman vir die MTPA het gesê dat die afgelope tien jaar was daar ‘n ongekende toename in mynbou-aansoeke in gebiede soos Chrissiesmeer, Wakkerstroom en Dullstroom.

Hy het beklemtoon dat die steenkool by Wakkerstroom nie ‘n skaars en strategiese materiaal is wat nie op ander plekke ook gevind kan word nie. 

Gevolglik meen hy dat mynbou-aksies liewers binne minder sensitiewe gebiede beoefen moet word. Buitendien sal die mynbou-aksie ‘n verlies aan toerisme beteken. Boonop sal dit waterbesoedeling en ontwatering van die vleilande veroorsaak.