ANC-ouers straf EVV-kinders

Die ANC-bewind het gewys wie is baas deur tydens ‘n spesiale sitting 12 parlementslede van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EVV) tydelik te skors.

Die mosie om hulle te skors is met 210 stemme teen 111 aanvaar.

Die EVV het drie maande gelede gewaag om daarop aan te dring dat president Jacob Zuma moet antwoorde gee oor die terugbetaling van belastinggeld wat gebruik is om onregmatige opgraderings by Nkandla te doen.

Sedert die “pay back the money”-voorval in die nasionale vergadering het sake van kwaad na erger gegaan. Toonbeelde daarvan is die verbete vastrappery van die ANC om Zuma ten alle koste te beskerm. Boonop val die buitenste draadheining by Nkandla (opgerig teen enigiets vanaf R8 miljoen) gate in en al word die plek met twee buitenste grensdraadheinings omring, lyk dit regtig glad nie naastenby veilig daar nie. 

Die speaker, Baleka Mbete, het briefies voor die spesiale sitting uitgestuur om teen ontwrigtings te waarsku. Desondanks het dit nogal moeite geverg om die EVV tydens ‘n oproerige debat omtrent ‘n verslag oor hulle gedrag (en straf) in toom te hou. Mbete het melding gemaak daarvan dat die EVV sou gesê het daar gaan “bloed op die vloer” tydens die spesiale sitting wees.

Die beste opsomming vir die gevegte tussen die ANC en die EVV is tydens die spesiale sitting deur ‘n opposisielid gemaak wat meen dit is soos ‘n bakleiery tussen ouers en hulle kinders (want die EVV is ‘n uitvloeisel van die ANC).

Die EVV dreig nou met hofsake en gee die versekering dat Zuma aanstaande jaar in Februarie tydens sy staatsrede sommer vrae sal moet beantwoord.