Amptenare kry skuld oor Nkandla

Blykbaar gaan dieselfde proses gevolg word met die Nkandla-voorval as wat toegepas is met die Gupta-fiasko toe Nommer Een die opdragte gegee het en die amptenare later aan die pen moes ry.

Die parlementêre ad hoc-komitee oor die omstrede Nkandla projek reken glo dat amptenare wat nie by die regulasies gebly het nie, nou die skuldenaars is waarom Nkandla se opgradering handuit geruk het.

Die komitee het verlede week bevind dat amptenare nie die reëls gevolg nie, het hulle plig versuim en grootskaalse korrupsie is volgens die “ANC-komitee” die hoofrede waarom Nkandla se opgradering nie reg hanteer is nie.

Die komitee sê die oortreding is nie begaan deur die president nie, en hy het nie die Wet op Etiek van Uitvoerende Lede oortree soos wat die Openbare Beskermer (OB) in haar verslag beweer nie.

Dr. Mathole Motshekga het glo te kenne gegee dat dit absurd is om te beweer die opgradering is ’n onregmatige voordeel, want dit is ’n veiligheid-aangeleentheid.

Hy meen die Wet is uit pas met die huidige omstandighede in die land.