Amerika maak reg vir nuwe president

Alle oë is nou in Amerika gerig op die presidensiële verkiesing in 2016 noudat die middeltermyn verkiesing afgehandel is.

Kiesers sal op 8 November 2016 die 45ste president van Amerika verkies. Aan die begin van 2016 sal die Republikeine en Demokrate hulle kandidate bekendstel. Daar lê egter nog baie werk voor en een daarvan is die insameling van fondse om die verkiesingsveldtogte mee te finansier.

Een van die Demokrate se  ambisieuse strydrosse, Hillary Clinton, sal waarskynlik haarself beskikbaar stel as ‘n presidentskandidaat. Die Amerikaanse vise-president, Joe Biden, kan ook ‘n poging aanwend, maar die moontlikheid word deur mense in die binnekringe van die Withuis uitgesluit.

Daar word veral na moontlike kandidate in die Republikeinse ‘kraal’ gekyk, juis omdat hulle die Demokrate so deeglik gewys het waar Dawid die wortels begrawe het.

‘n Hele klomp name aan die Republikeinse kant duik op, maar dit is op hierdie stadium nog net blote spekulasie. In Amerika tel geldelike steun uiteindelik as die eintlike beherende magbasis wanneer ‘n president in die stoel gestoot word.

Die moontlikheid bestaan dat een van die volgende Republikeine se name dalk tog vorentoe weer sal opduik:  senators Marco Rubio van Florida en Ted Cruz van Texas, goewerneurs Chris Christie (New Jersey), Rick Perry (Texas), Scott Walker (Wisconsin) en Bobby Jindal (Louisiana).

En dan het die naam van Mitt Romney weer opgeduik, maar sy politieke loopbaan as Republikein was tot dusver glad nie suksesvol nie.

Foto – senator Ted Cruz