Agave attenuata – Leeustert

Hierdie pragtige fokusplant word ook genoem “lion’s tail’, “swan’s neck” of “foxtail”.  Die byname van Agave attenuata pas eintlik baie goed by die plant veral wanneer dit in blom is.  Die name verwys na die geboë  stam en blomrisoom. Agave attenuata is in die familie Asparagaceae. Die plant klassifiseer ook onder vetplante. Dit kom oorspronklik van Madeira en Libië.

Die stam van hierdie agave word tussen 50 cm en 150 cm lank en gewoonlik verloor hy sy blare en dan is die lang stam duidelik sigbaar. Agave attenuata  se blare maak ‘n pragtige vertoning en vorm dig opmekaar en dit is ‘n baie goeie groot roosgevormde sagte, vlesige blaremassa aan die stamme. Die blare is ovaal en valerig/groen tot ‘n ligte gelerige kleur. Hulle word 50 cm tot 70 cm lank en 12 cm tot 16 cm breed.  Hoewel die blare skerp puntvormig is, is daar  nie dorings of kartels rondom die blare nie. Wanneer die blare oud word, is hulle geneig om verlep te raak op die punte en krul dan effens na binne. 

Hierdie plant dra ‘n indrukwekkende blom aan die einde van die plant se lewe. Die blommetjies vorm aan ‘n lang stam en is sag, ligte geel, baie dig reg rondom die stam. Dit is die mees indrukwekkendste vertoning in die tuin. Hierdie stam buig ook af na die grond,  omdat hy lank is en nogal swaar dra aan blommetjies en lyk regtig soos ‘n swaan se nek. Hierdie spesie A.attenuata, plant homself voort met lopers wat vorm en waar hulle in die grond anker, vorm daar ‘n nuwe plant, so lyk dit ook sommer of die hele plant met die klein nuwe plante aan, roosvormig groei en dig opmekaar. Die plante groei vinnig en dek ‘n groot area in ‘n baie kort rukkie. Dit kan ook met blare wat uself in die grond druk, voortgeplant word. Daar word vinnig worteltjies aan die blare gevorm wanneer hulle in die grond gedruk word en kort voor lank sien ons ‘n plantjie wat soos ‘n klein rosie is, verskyn.

Agave attenuata se wortelstelsel is baie vlak en klein maar die plant vestig homself baie stewig in die grond en veral waar hulle onder bome geplant word, anker hulle wortels goed aan die boomwortels vas. Agave attenuata verkies warm, droë somers en ryp en hewige koue kan die plante beskadig.

Tuiniers, dis regtig voordelig om hierdie plante in u tuin te plant. Hulle vereis nie eintlik baie aandag en water nie. Plant hulle in vol son tot ligte skadu en sal ook in groot potte groei. Dit moet in goed dreinerende grond geplant word en te veel water kan die wortels laat verrot en sal dan die blare van die plant vaal en verlep laat voorkom en die plant sal doodgaan. Dit vertoon baie mooi in rotstuine en gee ‘n woestynagtige voorkoms aan die tuin.

 

Geniet u tuin tot volgende keer