Afrikaans is Groot en veilig

Mense wat die Afrikaans is Groot-konsertreeks wil bywoon, is ingelig dat die ANC-jeugliga nie ‘n betoging teen Steve Hofmeyr sal kan hou nie.

Die liga se aansoek om ‘n protes te hou, is deur die Pretoriase metroraad afgekeur, het die woordvoerder van die konsert, Barnard Beukman, gesê.

Hy het konsertgangers wat moontlik bekommerd kon wees oor hulle veiligheid ingelig dat die kwessie nou opgelos is.

Die konsertreeks word tot 22 November aangebied en benewens Hofmeyr tree sangers soos Bobby en Karlien van Jaarsveld, Dewald Wasserfall, Theuns Jordaan, Juanita du Plessis, Bok van Blerk en Arno Jordaan ook op.

Vroeër is berig dat bykans 80,000 kaartjies verkoop het. Op  28 en 29 November is daar ook Afrikaans is Groot-konserte in die Kaap.