Afrikaans bly steeds Groot

Die Afrikaans is Groot-konserte gaan soos beplan voort ondanks dreigemente van die ANC-jeugliga dat hulle ‘n betoging beplan waar die optredes in Pretoria sal plaasvind.

Die konserte gaan voort en die organiseerders laat hulle nie intimideer nie, het ‘n woordvoerder, Barnard Beukman, gesê.

Dit is glo steeds nie duidelik of die jeugliga se aansoek by die Pretoriase metroraad sal voldoen aan die voorgeskrewe tyd om kennis te gee van ‘n betoging nie. Die vertroue is uitgespreek dat die owerhede die aansoek binne die voorgeskrewe regulasies sal oorweeg. Die jeugliga het gedreig dat hulle gaan betoog oor ‘n uitlating wat die sanger, Steve Hofmeyr, op die sosiale media gemaak het oor apartheid.

Maatreëls is egter getref om die veiligheid van konsertgangers te verseker.

Afrikaans is Groot-konserte het op 14 November begin en loop op 22 November in Pretoria ten einde, waarna daar op  28 en 29 November optredes in die Kaap is.