Advertensie dien as lokaas

‘n Sakeman ten noorde van Pretoria is in ‘n hospitaal se intensiewe eenheid nadat hy geskiet is in ‘n bedrogspul wat op ‘n gewapende roof uitgeloop het. 

Mnr. Dirk Badenhorst en ‘n vriend, Anrich van Rensburg, is naby Soutpansbergweg in Pretoria oorval toe hulle gereël het om die sogenaamde verkoper van ‘n voertuig by sy huis te ontmoet.

Hy het bykans R70 000 in kontant saamgeneem om die Mercedez Benz te betaal wat hy wou koop.  Die voertuig is op ‘n gewilde gratis advertensieblad geadverteer.

Toe hulle bakkie egter in die oprit van die vermeende verkoper intrek, het twee gewapende mans, een aan elke kant, langs hulle verskyn en die kontant geëis. Een van die mans het toe op Badenhorst geskiet en hom in die arm en maag getref en weggeloop met die geld.

Volgens sy vriend was hulle van meet af agterdogtig gewees want die man het aanhoudend uitgestel om hulle te ontmoet om die transaksie te beklink.

Die ander rower het Van Rensburg se selfoon en motorsleutels afgeneem en probeer om hom te skiet, maar die wapen het geweier. Badenhorst se vrou, Vanessa, het hulle in haar eie voertuig gevolg en haar beursie en motorsleutels is ook geroof.

Badenhorst is in die intensiewe eenheid van die Meulmed Hospitaal, waar hy ‘n operasie ondergaan het.