Zuma kry internasionale weerstand

Suid-Afrika se president, Jacob Zuma, het die afgelope naweek die wereld se weerstand ervaar toe hy as eregas moes optree en uiteindelik maar sy tyd moes verwyl by sy omstrede privaat woning in Nkandla.

Zuma was veronderstel om met sy luukse vliegtuig na Brittanje te vlieg, maar die huurstraler het bly staan by Waterkloof-lughawe, terwyl bemanning en spyseniers alles gereed gehad het vir die vlug.

Die vlug is gekanselleer nadat Eerste Minister Cameron van Brittanje hom laat weet het dat hy nie beskikbaar is om Zuma te sien nie, en dat hy sy adjunk, Nick Clegg, aangewys het om Zuma te woord te staan.

Pres. Zuma sou die BRICS-beleggerskonferensie in Londen geopen het, waarna hy ook gesprek sou voer met David Cameron.

Zuma sou met ’n gehuurde Boeing 727 na Brittanje gereis het terwyl sy luukse straler in Switserland is om versien te word.

Die vlugkoste na Nkandla het sowat R320,000 beloop wat deur die belastingbetalers finansier word. Die reis na Brittanje sou egter ’n R10 miljoen rekening gelewer het, wat ook uit belastingbetalers se sakke moes kom.

Berigte vlieg rond dat Zuma deur Brittanje afgejak is.

Politieke ontleders meen dit is nie verniet die tweede keer dat pres. Zuma se afsprake na Brittanje gekanselleer is nie, wat ’n duidelike boodskap van vyandigheid weerspieël.

In verskeie media is gerapporteer dat die president hom vererg het vir die jongste “afjak” wat hy beleef het.

Die konferensie word nou deur vier ministers uit Suid-Afrika bygewoon, maar op die konferensie se webblad staan pres. Zuma se naam nog steeds as besoekende eregas.