Zambiese president sterf

Die 77 jarige president van Zambië, Michael Sata, is in Londen oorlede waar hy geruime tyd behandeling ontvang het vir ’n ernstige siektetoestand.

Die president het verskeie kere besoeke gebring aan geneeshere in die buiteland, maar die werklike oorsaak van sy dood is nog steeds onbekend.

Dit is nie bekend waarvoor hy behandeling ontvang het gedurende die afgelope jaar, toe hy blykbaar verskeie lande soos China, Brittanje en Duitsland besoek het nie.

Na wat berig word, sal die regering se kabinet binnekort vergader om die tussentydse opvolger aan te wys.

’n Regeringswoordvoerder het vroeër aangekondig dat die land se president na die buiteland reis om roetine mediese ondersoeke te ondergaan.

Die president was die afgelope maande nie betrokke by enige openbare optrede of geleenthede in sy land nie, wat die vermoede bevestig het dat hy ernstige gesondheidsprobleme ondervind het.

Sata het glo op 19 September in die openbaar verskyn, met die bedoeling  om aan die land te toon dat hy nog in lewende lywe is.

Dit het glo gevolg nadat gerugte die rondte gedoen het dat die president oorlede is.

Die magstryd wat reeds vir etlike maande woed om die opvolger te word, het glo nou volle momentum gekry.

Foto – Michael Sata