Wollerige mammoet baie gewild

Die karkas van ‘n amper 40,000 jaar oue mammoet word tans in Moskou uitgestal, waar besoekers nie genoeg kan kry van die wollerige dier nie.

Die mammoet is verrassend genoeg in ‘n baie goeie toestand aangesien dit in die ysgrond van Rusland se verre noordelike Jakutië-streek gekry is.

Wetenskaplikes noem die mammoet, Juka, na aanleiding van die plek waar hy in 2010 uitgegrawe is. Hy was in sy tienerjare (ses tot elf jaar) toe hy dood is, maar lyk glo nie ‘n dag ouer as sowat 39,000 jaar nie.

Die ysgrond het hom so goed bewaar dat selfs die sagte weefsel en rooierige pels van Juka behoue gebly het. Selfs die grootste deel van sy brein het behoue gebly en bied daarom aan wetenskaplikes die geleentheid om dit te bestudeer.

Wollerige mammoete het vermoedelik en na bewering sowat 10,000 gelede uitgesterf, maar wetenskaplikes meen kleiner groepe van hulle het langer in Alaska en op die eilande naby aan Siberië geleef.

‘n Gedeelte van ‘n Colombiaanse mammoet se skedel en slagtande het intussen ‘n taamlike opskudding veroorsaak toe daar vroeër in Idaho begin is om dit uit te grawe. Die groot nuus is dat kenners meen ‘n baie skaars volledige geraamte kan daar verborge wees. Hulle skat die mammoet was nagenoeg 16 jaar oud en het sowat 70 000 tot 120 000 gelede geleef. Die bepaalde gebied het die afgelope paar dekades heelwat fossiele opgelewer van verskillende uitgestorwe spesies wat wissel van sabeltandkatte, kortneus bere wat groter as Noord-Amerikaanse grysbere is, en reuse luidiere.