Wes-Kaapse winkelrowers kry dit hotagter

Die Wes-Kaapse polisie is warm op die spoor van verdagtes wat betrokke is by die reeks rooftogte by winkelsentrums nadat ‘n klomp van die rowers geïdentifiseer is.

Die hulp van die publiek is egter gevra om seker te maak hulle word so gou as moontlik aangekeer. Foto’s van die verdagtes is in die media gepubliseer.

Die Wes-Kaapse polisiewoordvoerder,  Andrè Traut, sê 20 verdagtes is in hegtenis geneem in verband met die rooftogte waarin selfone en juweliersware geroof is. Nog vier is enkele dae gelede naby ‘n selfoonwinkel gearresteer.

Die polisie in die Wes-Kaap het ‘n span kundiges en takties sigbare polisie beskikbaar gestel om hierdie rooftogte op te los.

Volgens Traut wil dit voorkom asof die skuldiges reeds voorheen met die gereg gebots het, maar oorgegaan het na rooftogte waarvan die risiko as aansienlik laer gereken word as transito- en kitsbankrooftogte.