Wapenwet gewysig na misdaad teen "hoë profiel"

Die ANC-bewind gaan sy reeds gevestigde werkswyse ten opsigte van wetgewing volg deur vroeg aanstaande jaar net na die vakansieseisoen ‘n Wysigingswetsontwerp aan die Wet op Vuurwapenbeheer in die parlement ter tafel te lê.

Behoorlike konsultasie met die publiek of die bedryf asook deurdagte wysigings sal dus soos in die meeste ander gevalle waarskynlik nogmaals in gedrang kom.

Dit wysigings sal blykbaar net tegnies van aard wees en is bedoel om die skuiwergate in die wet te verwyder, het die minister van polisie, Nathi Nhleko, aan joernaliste by die parlement vertel. Praktiese maatreëls ten opsigte van vuurwapenbeheer sal veral aandag geniet. Daar sal ook gekyk word of die strawwe vir die gebruik van vuurwapens in gewelddadige misdaad swaar genoeg is.

Volgens ‘n ANC-woordvoerder, Zizi Kodwa, moet ‘n hersiening van die wet daarop gerig wees om toegang tot wapens te beperk wat in die verkeerde hande beland. Strenger wetgewing omtent wapenbeheer is volgens Kodwa glo voorts nodig om nalatige vuurwapeneienaars te straf. Maksimum strawwe moet opgelê word as ‘n afskrikmiddel aan diegene wat in besit is van sodanige wapens én diegene wat dit gebruik om ander mense af te maai, meen hy.

Hierdie reaksie van die ANC volg na die moord op sokkerkaptein, Senzo Meyiwa, en die rooftog by ‘n kitsbank in Witbank waartydens die ANC-parlementslid, Jackson Mthembu, gewond is.

Verskeie aspekte gaan die ANC-planne ernstig bemoeilik in ‘n samelewing waarin misdaad sodanig hande uitgeruk het dat Suid-Afrika se jongste beskikbare moordsyfer vyf keer hoër as die gemiddelde wêreldkoers van 6 moorde per 100,000 mense is. 

Een van die grootste dilemmas van die ANC-bewind is die ineenstorting van infrastruktuur weens wanbestuur en onbevoegdheid.

Vroeër is berig dat die sentrale vuurwapenregister (SVR) in totale chaos verval het en dit beheer oor vuurwapens bykans onmoontlik maak. Uiteraard word die uitreik van vuurwapenlisensies boonop hierdeur in die wiele gery.