Vrystaat kort ‘n dringende regruk

Die Vrystaatse provinsiale regering is op die randjie van die afgrond en sal gou en vinnig reggeruk moet word om ‘n geldelike katastrofe te vermy.

Die jaarverslae van die verskillende departemente is kort gelede ter tafel gelê en teken ‘n somber prentjie. Die grootste kopsere is die departemente van gesondheid en onderwys se uitstaande skuld wat ‘n negatiewe invloed op die bestaande begroting het.

Die ouditeur-generaal se verslag toon daar was geen verbetering in die provinsie se finansiële bestuur en beheer nie.

Die verslag toon ‘n toename van 87% in ongemagtigde uitgawes in die 2013/14 finansiële jaar. Onreëlmatige uitgawes het ook drasties toegeneem met meer as 4750 gevalle wat plaasgevind het. Dit beloop sowat R2,4 miljard.

Daar was ook ‘n toename in vrugtelose en verkwistende uitgawes wat sowat R29-miljoen beloop.

Foto – Vrystaat landskap