Vodacom sorg dalk vir ‘gemorspos’

Kry jy gereeld bemarkingsboodskappe van besighede op jou selfoon?

Kliënte se vermoede dat hulle inligting aan sogenaamde derde partye verskaf, is dalk glad nie so vergesog nie aangesien Vodacom pas bevestig het dat hy dit gedoen het.

Die selfoonmaatskappy, Vodacom het erken dat hy van die persoonlik detail van sy 32,5 miljoen Suid-Afrikaanse kliënte en 27 miljoen internasionale intekenare aan ander besighede voorsien het.

Die maatskappy het glo ‘n “dringende” interne ondersoek oor die saak geloods, maar het geweier om daaroor uit te brei.

Die Wetsontwerp op die Beskerming van Persoonlike Inligting, waarvolgens die bekendmaking van mense se persoonlike besonderhede aan derde partye gereguleer sal word, het (gelukkig vir Vodacom) nog nie in werking getree nie.

Vodacom kon egter moontlik die gedragskode van die vereniging van koordlose diensverskaffers, waarvan hy ‘n lid is, oortree het.