Vere waai oor wedvlugduiwe

Wedvlugduiwe sal moontlik steeds in Suid-Afrika as ‘n sportsoort kan bly voortbestaan, alhoewel dit op hierdie stadium lyk asof die nuwe wetgewing daaromtrent tot uiteenlopende interpretasies gelei het.

Vir die departement van omgewingsake handel dit blykbaar oor die feit dat wilde duiwe as ‘n indringerspesie geklassifiseer is. Die duiwe wat algemeen in wedvlugsport gebruik word, is dieselfde as die spesie wat gelys is, het die departement in ‘n verklaring gesê.

“Die getalle (van die duiwe) is redelik laag in verhouding met die bestaande indringing en dit is dus moontlik om ʼn vrystelling te gee vir wedvlugaktiwiteite,” het die departement bygevoeg. “Dit sal met die betrokke verenigings bespreek word.”

Die president van die Suid-Afrikaanse Nasionale Posduif-organisasie (Sanpo), Faunty Gillmer, het vroeër gesê hulle wil met die minister van omgewingsake vergader.

Gillmer het gesê sy organisasie het ʼn skrywe aan die adjunkminister gerig en wag steeds op ʼn antwoord. Sanpo sal ook die hof nader indien die vergadering met die minister nie ʼn gunstige uitslag lewer nie, het hy bygevoeg.

Die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) het egter ʼn verklaring uitgereik waarin die instansie bekend gemaak het dat dit onwettig is om met wedvlugduiwe te teel, handel te dryf of die duiwe aan wedvlugte te laat deelneem. Volgens die NDBV is die organisasie besorg oor die groot aantal duiwe wat weens uitputting of uitermatige weerstoestande tydens wedvlugte nooit hul eindbestemming bereik nie.