Uit die mond van die suigeling

Suid-Afrikaanse kinders verkies ‘n fiktiewe karakter soos Spider Man om aan die hoof van Suid-Afrika te staan.

Nagenoeg 38% kinders verkies Spider Man as staatshoof, aldus ‘n opname deur een van ‘n Afrikaanse dagblaaie se talle vertakkinge. Peter Pan se maatjie, Tinkerbell, het glad 31% stemme gekry om die land te bestuur.

En president Jacob Zuma het geen stemme gekry nie.

Die opname weerspieël die menings van 2 ,00 ouers en hulle kinders in nege provinsies. Die ouderdomme van die kinders wissel van een tot nege. Die ouers het die opname aanlyn voltooi en het gehelp om die kinders se vrae namens hulle te beantwoord.

Verskeie vrae is gestel en daardeur is ‘n blik op die lewe in Suid-Afrikaanse huishoudings verkry. Dit blyk onder meer dat 62% kinders tot drie keer ‘n week wegneemetes eet. Sowat 75% help met huishoudelike take.

Nagenoeg 43% van die ouers wat deelgeneem het aan die opname wil graag hê hulle kinders moet dokters word, terwyl 29% wil hê hulle moet ingenieurs word.

Net 1% meen ‘n politieke loopbaan sal ‘n goeie beroep vir hulle kinders wees.