Twee terroriste doodgeskiet na plaasmoord

Die vinnige optrede van ‘n Wes-Transvaalse plaasgemeenskap het gesorg dat twee terroriste doodgeskiet en ‘n derde een aangekeer is na ‘n plaasaanval naby Leeudoringstad.

Die drie misdadigers het mnr. Johan Janse van Rensburg op sy plaas, Droëkraal, doodgeskiet nadat hulle twee van sy werknemers vasgebind het.

Hulle het sy lyk in die kattebak van sy motor gesit en daarmee weggejaag.

Die werkers kon daarin slaag om hulleself los te maak en het ‘n paniekknoppie gedruk om naburige boere in kennis te stel. Hulle het die terroriste agterna gesit en in ‘n skietery sowat 30 km van Makwassie is twee van hulle doodgeskiet en die derde een in hegtenis geneem. Die polisie het op vier vuurwapens beslag gelê.

Die 24-jarige wat in hegtenis geneem is, is in 2012 vir huisbraak aangekeer, maar is vrygespreek. Sy twee medepligtiges het destyds 15 jaar tronkstraf gekry.

Die jong terroris is tans onder polisiebewaking in die hospitaal en sal na verwagting binnekort in die rondgaande hof op Leeudoringstad verskyn.