Tsjeggië met ebola afgedreig

Afpersers dreig om ebola in die Tsjeggiese Republiek te versprei, tensy die regering hulle een miljoen euro in die virtuele geldeenheid, Bitcoin, betaal.

‘n E-pos van die afpersers, waarin hulle aangevoer hulle het “biologiese materiaal” van ‘n geïnfekteerde Liberiese pasiënt, is op die kommersiële TV Nova-stasie, vertoon.

Volgens die Tsjeggiese polisie se adjunk-hoof, Zdenek Laube, is die skuldiges se hoofdoel om paniek te saai. Indien die afpersers aangekeer word, kan hulle tot 12 jaar gevangenisstraf gevonnis word indien hulle skuldig bevind word.

Toetse wat op vier vermeende gevalle van ebola in die Tsjeggiese Republiek uitgevoer is, was negatief. Die departement van gesondheid het die publiek gerus gestel deur te sê dit is onwaarskynlik dat ebola na Tsjeggië sal versprei.

Meer as 10,000 mense is tot dusver hoofsaaklik in Wes-Afrika met die dodelike virus besmet. Bykans 5,000 mense het tot dusver aan ebola beswyk.