Stop Eskom se sake-etes

Eskom se borgskap van R43 miljoen vir die pro-ANC koerant, New Age, se sogenaamde sake-etes het op die lappe gekom te midde van die geldkrisis waarin die elektrisiteitsvoorsiener hom bevind.

Die multi-miljoen rand ‘sake-verbintenis’ tussen Eskom en New Age is des te meer skokkend aangesien Suid-Afrikaners van April aanstaande jaar gemiddeld 13% meer vir elektrisiteit sal moet betaal net om te boet vir Eskom se finansiële verknorsing.

Die Eskom moes onlangs by die regering vir ‘n R20 miljard kontant inspuiting en ‘n verdere R250 miljard borgwaarborge bedel. Nie-strategiese bates gaan deur die ANC-bewind verkoop word om Eskom finansieel te dra. Daar was sprake dat die regering onder meer sy aandeel in Vodacom gaan verkoop om dit te doen. Eskom se geldsake gaan darem glo deur ‘n interministeriële taakspan ondersoek word, aldus ‘n aankondiging tydens die mediumtermyn begroting.

Hierdie multi-miljoen rand borgskap van Eskom aan New Age moet herroep word en eerste op die lys wees om ondersoek te word, het die opposisie in ‘n skrywe aan die minister van openbare ondernemings, Lynne Brown, geëis.

New Age se sake-ontbytetes is kort-kort in die nuus weens die enorme borgskappe wat deur regeringsinstansies, hoofsaaklike semi-staatsinstellings, daarin gepomp word. Die koerant word deur die Gupta-familie besit en is tot stand gebring om as ‘n ANC-mondstuk te dien. Die baie nou bande tussen die Gupta-familie en president Jacob Zuma het byvoorbeeld gesorg vir die debakel (skandaal) by die Waterkloof-Lugmagbasis.

Die waarnemende hoof uitvoerende beampte van Eskom, Colin Matjila, het insgelyks noue bande met die Guptas wat dateer uit sy dae by Cosatu. Interne konflik by Eskom het egter daarvoor gesorg dat Matjila intussen vervang is.